GAUTENG. – Clair Aucamp, ‘n gr.7-leerder van Laerskool Mayville in Pretoria, het Saterdagmiddag gesterf nadat sy Donderdag van die tweede vloer van een van die skool se geboue geval het.
Volgens AO Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, is ‘n geregtelike doodsondersoek deur Wonderboompoort-polisiestasie geopen, wat ondersoek word.
Laerskool Mayville het Clair se afsterwe Saterdag op hulle amptelike Facebook-blad bekend gemaak.
“Dit is met seer harte dat ons u moet meedeel dat Clair oorlede is. Ons wil ons innige meegevoel betuig aan haar familie en geliefdes. Ons bid vir julle God se vertroosting in hierdie tyd. Ons versoek dat u asb. haar familie geleentheid gee om hierdie te probeer verwerk. Bid asb. steeds vir hulle. Baie dankie vir almal se gebede en ondersteuning.”
Clair word deur haar ouers en ouer broer oorleef.






