AfriForum, die burgerregteorganisasie, dring by Barbara Creecy, die minister van vervoer, daarop aan om as gevolg van die agterstand van meer as 730 000 bestuurderslisensiekaarte gratis tydelike lisensies aan bestuurders uit te reik.
Louis Boshoff, woordvoerder van AfriForum, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die agterstand kom nadat die land se enigste lisensiekaartdrukker die afgelope vier jaar vir meer as 130 dae buite werking was. Die enorme agterstand is middel Mei vasgestel.
Motoriste wat nie voor die vervaldatum van hul bestuurderslisensies vir ‘n nuwe vervanging aansoek doen nie, moet ‘n tydelike lisensie uitneem. Die probleem is dat wetsgehoorsame burgers wat wel betyds betaal vir die hernuwing van hulle lisensies, nou boonop vir die tydelike lisensies moet betaal. Die organisasie sê dié finansiële implikasies is weens nalatigheid van die departement van vervoer. Die mening is dat diegene wat volgens riglyne funksioneer om hulle lisensies betyds te hernu, goedkoper vir ‘n tydelike lisensie moet opdok.
“As die departement nie in staat is om hul masjien in stand te hou of ’n nuwe een te kry nie, moet húlle die prys daarvoor betaal, nie gewone motoriste nie.”
Boshoff verduidelik verder dat AfriForum en ander organisasies al verskeie werkbare oplossings voorgestel het om die agterstand met die druk van lisensiekaarte te takel, soos om die geldigheidstydperk van lisensiekaarte te verleng, maar dat die departement hom tot dusver vir dié aanbevelings doof gehou het.
“Die departement het nou reeds oorgenoeg tyd gehad om ’n nuwe lisensiekaartdrukker te kry. Ons weier om aan te hou betaal vir ’n probleem wat weens swak bestuur steeds nie opgelos word nie,” sluit Boshoff af.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





