GAUTENG. – Jaén-Lee Pyne (31) van Randburg het onlangs op verskeie aanklagte van moord en poging tot moord in onderskeidelik die Brakpan- en Heidelberg-landdroshowe verskyn.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Pyne het op 18 November op aanklagte van moord en poging tot moord in die Heidelberg-landdroshof voorgekom. Hy is tydens die hofverskyning vir die Brakpan-sake gearresteer.
Etienne du Preez het op 3 Julie aan skietwonde beswyk en Flip Minnaar is gewond toe hulle na bewering op 3 Julie ‘n restaurant verlaat het en deur Pyne, wat hulle op ‘n motorfiets genader het, geskiet is. Pyne het homself agt dae later aan die polisie oorhandig. Tydens die aanvanklike hofverskyning en borgaansoek het dit aan die lig gekom Pyne het nog ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen hom uitstaande.
In die ander saak het hy op 22 November op aanklagte van moord met voorbedagte rade, drie aanklagte van poging tot moord en die besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, in die Brakpan-landdroshof, verskyn. Op 4 Mei het Pyne en nog ‘n persoon na bewering vier Nigeriërs op die hoek van Madley- en Hamiltonstraat in Brakpan ontmoet. ‘n Woordewisseling het glo ontstaan en Pyne het volgens rapportering ‘n vuurwapen te voorskyn gebring en op die groep geskiet. Uchenna Prince Ibeh het gesterf. Die ander drie beseerdes het mediese hulp by ‘n hospitaal ontvang.
Mahanjana sê gemeenskapslede het die polisie verwittig en ‘n saak is geopen, waarna Pyne gearresteer en op 18 November op aanklagte van moord en poging tot moord in die Heidelberg-landdroshof verskyn het.
Die saak is vir borgaansoek tot 2 Desember uitgestel.