GAUTENG. – Mauro Mucambe Junior (40), ’n gesoekte Mosambieker en beweerde ontvoeringsmeesterbrein, is Saterdag tydens ’n skietgeveg met die polisie se teen-ontvoeringspan in ’n woonstelkompleks in Fourways, Johannesburg, doodgeskiet.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoeder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die span het Junior opgespoor terwyl hulle ’n ondersoek na ’n ontvoerde Pakistanse sakeman van Pretoria-Wes uitgevoer het. Die slagoffer is steeds in aanhouding en ‘n lospryseis is aan sy familie gerig.
Die operasie het by ’n kompleks in Carlswald, Midrand, begin, waar daar op ’n Mercedes-Benz en’n silwer Pajero beslag gelê en twee verdagtes in hegtenis geneem is. Die span het toe na Fourways beweeg, waar die skietgeveg uitgebreek en Junior noodlottig gewond is.
Mathe sê Junior is in Augustus 2024 vir verskeie ontvoerings in Mosambiek deur die Maputo-polisie gesoek. ’n Ongelisensieerde vuurwapen met 10 patrone, vier selfone en vier bankkaarte is op die toneel gekonfiskeer.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





