NOORD-KAAP. – Jean-Pierre Bruyns (39) is vir motordiefstal en diefstal deur die De Aar-streekhof tot 10 jaar tronkstraf gevonnis.
Lt.kol. Sergio Kock sê Bruyns het op 18 September 2023 ‘n Toyota Hilux-bakkie en plaastoerusting ter waarde van R230 000 van die plaas waar hy gewerk het, gesteel. Hy het ook sy werkgewer se petrolkaart gesteel en R3 000 petrol in die gesteelde bakkie gegooi. Bruyns het na Beaufort-Wes gery waar hy ‘n sleepwa met twee motorfietse gesteel het.
De Aar se voertuigmisdaadondersoekers het hom op 23 Desember 2023 in Kempton Park, Johannesburg, opgespoor en in hegtenis geneem. Die gesteelde goed is nie teruggevind nie.
Bruyns is op aanklag 1 vir diefstal van ‘n motorvoertuig vir vyf jaar gevonnis en op aanklag 2 vir diefstal is hy ook vyf jaar gevonnis. Hy is voorts onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Speur.sers. Samuel Witbooi is vir die suksesvolle afhandeling van die saak en vonnisoplegging geprys.

