Myiasis-gevalle behandel, maar beweringe oor stafilokokkus-infeksie ongegrond

Lees ook :

Foto: Vryheidsfront Plus

Waarskuwing: Foto kan sensitiewe lesers ontstel

GAUTENG. – Die departement van gesondheid sê dit neem kennis van kommer oor ‘n beweerde uitbraak van stafilokokkus-infeksie by ‘n Pretoria-Noord-kliniek. ‘n Ondersoek is gedoen en geen bewyse van die uitbraak kon gevind word nie.

Motalatale Modiba, woordvoerder vir die Gautengse departement van gesondheid, sê die bewering oor die stafilokokkus-infeksie in Pretoria-Noord is vals. Die ondersoek het wel bevestig ‘n pasiënt met chroniese wonde, wat nie op behandeling reageer nie, is op 7 Maart by die Jack Hindon-kliniek gesien, waarna laboratoriumtoetsing die stafilokokkus-infeksie bevestig het. Die pasiënt is na die Tshwane-distrikshospitaal verwys, maar daar is nie ‘n toename of ‘n uitbraak van gevalle nie.

Die Odi-distrikshospitaal in Tshwane het die week vyf pasiënte met vermoedelike myasis behandel, ‘n toestand deur larwe-besmetting veroorsaak. Drie van die gevalle is klinies as myasis gediagnoseer, terwyl die ander twee gevalle onverwante absesse is. Die twee gevalle is vir verdere versorging na die Dr. George Mukhari Akademiese Hospitaal verwys. Die drie myasis-gevalle is dieselfde dag wat hulle gesien is, ontslaan.

“Dit is belangrik om daarop te let dat myiasis nie ‘n aansteeklike siekte is nie en nie van persoon tot persoon versprei nie. Die toestand kom voor wanneer vlieë eiers op klam klere, beddegoed of onhigiëniese oppervlaktes lê. Sodra dit uitgebroei het, grawe die maaiers in die vel in, wat swelling, irritasie en ‘n sweerletsel met ‘n klein gaatjie, waardeur die maaier asemhaal, veroorsaak.”

Myiasis, ook bekend as flystrike, is die parasitiese besmetting van die liggaam van ‘n lewende dier deur vlieglarwes wat in die gasheer groei terwyl hulle op sy weefsel voed.

Simptome sluit pynlike en knoppe op die vel in, met ‘n klein gaatjie op die swelsel waar beweging somtyds gesien kan word. ‘n Jeuksensasie, of die gevoel van beweging kan ervaar word. In sommige gevalle kan sweersel uit die wond kom.

Voorkom besmetting deur nie klere of beddegoed direk op die grond droog te maak nie. Stryk klere in hoërisikogebiede voordat dit gedra word. Handhaaf behoorlike higiëne en dra skoene om blootstelling aan voete te keer. Huisdiere moet vir vliegbesmetting behandel word.

Modiba sluit af deur te sê: “Stafilokokkus-bakterieë word algemeen op menslike vel aangetref en is oor die algemeen onskadelik tensy hulle deur ‘n wond of sny die liggaam binnedring. Die departement doen ‘n beroep op lede van die publiek om kalm te bly en hulle van die verspreiding van ongeverifieerde inligting wat onnodige paniek kan veroorsaak te weerhou. Die departement is daartoe verbind om die veiligheid en welstand van almal te verseker, en moedig diegene wat simptome ervaar aan om
mediese hulp by hul naaste gesondheidsfasiliteit te soek.”


Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief