VRYSTAAT. – Nog drie verdagtes van ‘n huisroof op ‘n plaas op Ladybrand is Woensdag in die vroeë oggendure vasgetrek.
Kapt. Loraine Earle sê inligting is Dinsdag ontvang en verskeie eenhede van die polisie het saamgewerk om die verdagtes in hegtenis te neem. Die inligting was van ‘n persoon wat glo skootrekenaars verkoop.
‘n Verdagte (28) is Woensdag deur die polisie in besit van dwelms, verskeie kalibers ammunisie en vermoedelik gesteelde selfone in hegtenis geneem. Verdere inligting het die polisie na Thaba Nchu gelei waar twee verdagtes, 30 en 29 jaar, gearresteer is. Hulle is in besit van skootrekenaars en slypmasjiene gevind. Dié inhegtenisneming het die polisie na twee gewere met reeksnommers wat afgevyl is in Ladybrand, gelei.
Die gewere sal ballistiese toetse ondergaan. Die drie verdagtes sal Vrydag op aanklagte van huisroof, besit van dwelms, besit van gesteelde eiendom, die onwettige besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in die Ladybrand-landdroshof verskyn.
Twee ander verdagtes is ná die huisroof op die plaas op 7 Julie in hegtenis geneem en sal op 16 Julie weer in die hof verskyn.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Die misdaadvoorkomingseenheid op Ladybrand het Saterdag verdagtes vasgetrek ure nadat ‘n boer en ‘n vroulike helper op ‘n plaas in die area aangeval is. Die boer se voertuig is ook later teruggevind na dit in ‘n ongeluk was.
AO Mmako Mophiring sê na bewering kon die boer se vrou, wat nie tuis was nie, hom omstreeks 17:00 nie in die hande kry nie. Sy het later iemand gevra om ondersoek in te stel, waarna die polisie om 23:00 ontbied is. Die plaaslike veiligheidskoördineerder het plaaslike boere geaktiveer. Met aankoms op die plaas is die bejaarde vroulike helper gevind. Die boer was reeds na ‘n plaaslike dokter geneem.
Na bewering het drie gewapende aanvallers, geklee in klapmusse en handskoene, die helper in die plaashuis oorval. Terwyl sy glo met ‘n vuurwapena gedreig is, is toegang tot die eiendom forseer. Die boer is glo in die badkamer oorval, met ‘n vuurwapen gedreig en geld is geëis. Twee kluise is deursoek, maar niks te vat kon daarin gevind word nie. Die verdagtes het glo daarna die boer se selfoon saam met ander waardevolle items gebuit en daarmee in sy Audi van die plaas gevlug.
Die Audi is Sondagoggend omstreeks 04:20 deur die misdaadvoorkomingseenheid opgemerk. ‘n Hoëspoedjaagtog het gevolg waartydens die verdagtes beheer oor die voertuig verloor het en dit gerol het.
Twee verdagtes, 21 en 38 jaar oud, is in hegtenis geneem, maar ‘n derde kon daarin slaag om te ontsnap.
Die twee verdagtes het Maandag op aanklag van huisroof in die plaaslike hof verskyn.