WES-KAAP. – Speurders het die naweek nog ‘n verdagte in hegtenis geneem nadat ‘n 50-jarige man op 8 April by die Wynberg-streekhof doodgeskiet is. ‘n Vroulike verdagte het reeds op ‘n moordklag in die hof verskyn.
Brig. Novela Potelwa sê as deel van die voortdurende ondersoek het die eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad die tweede verdagte (24) gearresteer wat vandag (22 April) in die Wynberg-landdroshof sal voorkom. Die oorledene, wat verbind was aan die taxi-industrie, is op die hofperseel doodgeskiet. Die vroulike verdagte het reeds op 13 April 2025 in die hof verskyn en sal weer Woensdag (23 April) voorkom.
“Die span het reeds verskeie individue ondervra en daar word bestendige vordering gemaak in die poging om alle betrokke persone vas te trek,” sê Potelwa.
Verdere inhegtenisnemings word verwag.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





