NOORD-KAAP. – Met operasie Shanela bly die polisie in die provinsie vasberade om gewelddadige kontakmisdade in die 2025-skooljaar te verminder.
Sers. Timothy Sam sê hoëdigtheidsoperasies is vir ‘n week vanaf 6 tot 12 Januarie in vyf distrikte, ter voorbereiding vir die heropening van die skole, uitgevoer. Met voertuigkontrolepunte en padblokkades is 2 422 voertuie en 4 780 persone en voertuie gestop en deursoek. Voorts is voet-en-voertuigpatrollies uitgevoer en verskeie tweedehandsehandelaars, skrootwerwe, herwinnaars, privaat veiligheidsmaatskappye, vuurwapenhandelaars, plase en formele, sowel as informele sakepersele, geïnspekteer.
Tydens die weeklange operasies is 203 verdagtes vir aanklagte van moord, poging tot moord, inbrake, aanranding, onwettige handel in drank, opsetlike saakbeskadiging, bestuur onder die invloed van alkohol of dwelms, roof, verkragting, besit van gevaarlike wapens, handel in en besit van dwelms, onwettige immigrasie, veediefstal en ander misdade, gearresteer. ‘n Groot aantal drank, dwelms, gevaarlike vuurwapens, vuurwerk en geld wat vermoedelik tydens die uitvoering van misdade gebruik is, is gekonfiskeer.
Die Kuruman-polisie het onder andere selfs ‘n verdagte gearresteer wat na bewering in ‘n saak betrokke is waar ‘n veiligheidsbeampte met sy eie vuurwapen geskiet is.
Lt.genl. Koliswa Otola het te kenne gegee die inisiatief vir “veilger skole” sal tydens terug-skool-toe-veldtogte deur die polisie bevorder word. Meer sigbaarheid sal in en om skole plaasvind en die dra en bêre van gevaarlike voorwerpe, en die besit en inneem van alkohol en onwettige dwelmmiddels, sal gemonitor word.


