NOORD-KAAP. – Die nasionale vervolgingsgesag het beklemtoon dat dit sal toesien dat persone wat wetstoepassingsbeamptes aanval of belemmer, volgens die wet aanspreeklik gehou word. Adriaan en Antonio Ramzan het op aanklagte in die Kimberley-landdroshof verskyn nadat ‘n video-opname van ‘n polisievrou op sosiale media versprei is.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die broers het op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, opsetlike saakbeskadiging en die inmenging van polisiepligte in die hof voorgekom. Die saak is vir verdere ondersoek tot 25 November uitgestel en sodat die J88-mediese vorm, beseringsverklarings, getuienis en die videomateriaal van die voorval bekom kan word. .
Adv. Hannes Cloete, die waarnemende direkteur van openbare vervolgings in die Noord-Kaap, sê die saak word ernstig opgeneem en noukeurig gevolg. Tydens die eerste hofverskyning van die beskuldigdes, waar hulle borgtog aangevra het, het die staatsaanklaer borgtog van R1 000 aanbeveel op grond van die inligting in die dossier, wat toe geen beseringsverklarings, videomateriaal of ander onafgehandelde sake teen die beskuldigdes bevat het nie. Na oorweging van die verdediging se argumente oor bekostigbaarheid, het die hof die beskuldigdes op waarskuwing vrygelaat.
Cloete beklemtoon dat vrylating op waarskuwing of borgtog nie ’n vryspraak beteken nie. Die beskuldigdes sal steeds voor die hof verskyn om op die ernstige aanklagte te antwoord. Hy sê: “Ons doen ’n beroep op die publiek om die reg te respekteer en die gesag van die howe te erken. Die strafregstelsel moet sonder vrees, guns of vooroordeel kan funksioneer. Alle beskuldigdes word as onskuldig beskou totdat hulle skuldig bevind word. Enigeen wat teen wetstoepassers oortree, sal deur die howe hanteer word.”
Die NVG doen verder ’n beroep op gemeenskappe om die hofprosesse sonder inmenging te laat verloop en die werk van wetstoepassers en vervolgingsowerhede te respekteer. Cloete sê dat aanvalle op wetstoepassers die fondamente van demokrasie ondermyn en dat die reg sonder kompromie gehandhaaf sal word.
Lees ook meer hier onder:





