GAUTENG. – Die onderhoof (53) van Laerskool Bronkhorstspruit het op drie aanklagte van verkragting van ‘n leerling (8) in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens die beskuldiging het die voorvalle tussen Junie 2024 en Augustus 2025 by drie geleenthede op die skoolterrein en tydens skoolure plaasgevind. Die saak het aan die lig gekom nadat die leerling se ma opgemerk het dat haar kind vreemd loop. Die kind het toe aan haar vertel wat gebeur het. Nadat die voorval by die polisie aangemeld is, is die beskuldigde op 1 September in hegtenis geneem.
Die saak is in die hof tot 11 September vir die beskuldigde se borgtogaansoek uitgestel. Dit sal deur die staat teengestaan word.
Steve Mabona, woordvoerder vir die Gautengse departement van onderwys (GDO), het bevestig ‘n leerling van dié skool het beweerde seksuele aanranding deur ‘n opvoeder aangemeld. Die saak is vir verdere ondersoek na die Education Labour Relations Council verwys. Die GDO sê prosesse en uitkomste van die ondersoek sal ten volle ondersteun word.