Abraham Vosloo, die LUR vir Onderwys in die Noord-Kaap, het Duineveld Hoërskool besoek om met die skool se bestuurs- en beheerliggaam te vergader oor die rassistiese TikTok-video wat verlede week aan die lig gekom het en vier leerders van die skool betrek. Hoewel die vier leerders geskors is in afwagting van hul dissiplinêre verhoor wat op 17 September 2024 gehou sal word, was dit noodsaaklik om die feite rondom die insident vas te stel en kollektief ‘n manier te vind om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom.
Lees die vorige berig hier: Vier leerlinge geskors na ‘rassistiese’ TikTok-video
Duineveld Hoërskool het hulself verbind tot samewerking met die departement rakende die dissiplinêre proses en voortgesette opvoedkundige programme wat rehabilitasie en nasionale identiteit by die skool bevorder.
Die departement van onderwys het vennootskappe met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die Nasionale Vervolgingsgesag aangegaan om die leerders van Duineveld Hoërskool deur middel van werkswinkels oor hul regte en verantwoordelikhede, die gebruik van sosiale media en aanspreeklikheid, in te lig. Duineveld Hoërskool is ook besig om ’n sosiale media-kenner te betrek vir ’n oop gesprek met leerders oor die gevare van sosiale media. ‘n Bestuursplan sal ontwikkel word om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys in die Noord-Kaap, sê hierdie voorval dien as ‘n wekroep om konstruktiewe programme en ingrypings in skole te begin, wat rasverdraagsaamheid en rassisme aanspreek. Die departement werk nou saam met Duineveld Hoërskool om te verseker dat hierdie programme suksesvol geïmplementeer word vanaf Oktober 2024.
Van der Merwe het verder bevestig dat die departement tevrede is met die manier waarop Duineveld Hoërskool die situasie hanteer het. “Ons kan die publiek verseker dat die skool in ooreenstemming met voorgeskrewe wetgewing en hul gedragskode opgetree het. Die departement sal die vordering van die saak noukeurig monitor en die nodige ondersteuning aan die skool bied.”





