VEREENIGING, GAUTENG. – ’n Ongeluk in Vereeniging het Saterdagaand om 19:45 die lewe van ’n babaseuntjie geëis.
Volgens CERT-Sa: VAAL het die ongeluk op die hoek van Rhodes- en Unionstraat plaasgevind. ’n Voertuig het na bewering ’n fietsryer getref en gevolglik van die pad af gegaan.
“Die voertuig het ’n lamppaal getref en amper binne ’n motorhandelaarwinkel geëindig.”
Daar was vyf beseerdes op die toneel, waarvan een ’n baba was. Een persoon het ernstige beserings opgedoen. Nog drie het matige beserings gehad. Die babaseuntjie is op die toneel dood verklaar.
Alle beseerdes is na nabygeleë hospitale vir verdere mediese behandeling geneem. Die omstandighede rakende die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.
Bronne: CERT-Sa: VAAL, Gauteng Emergency Medical Services