VRYSTAAT. – Kamogelo Baukudi (19), ’n gr. 11-leerling van Martie du Plessis Skool in Bloemfontein is ná ’n gekoördineerde reddingsoperasie lewend in Wepener gevind. Die polisie het vanoggend (Vrydag) die deurbraak in die ontvoeringsaak van 5 Junie bevestig. Altesaam ses verdagtes, van wie een ‘n polisiesersant, is tans in aanhouding.
Brig. Motantsi Makhele sê Baukudi is die betrokke Donderdag in Vereenigingrylaan in Bloemfontein ontvoer terwyl hy van die skool af op pad huis toe was. Sy verdwyning het wydverspreide kommer ontlok en tot die stigting van ’n toegewyde multidissiplinêre taakspan gelei. Die jong man is ná weke van intensiewe ondersoek in die vroeë oggendure in Wepener opgespoor en gered. Vyf verdagtes tussen 20 en 29 is vanoggend in hegtenis geneem. Drie verdagtes is in ’n huis in Kanana, Wepener, aangekeer, terwyl twee ander op die pad tussen Kwetla en Wepenerdorp met die slagoffer in hul besit betrap is. Hierdie inhegtenisnemings bring die totale aantal verdagtes in die saak tot ses te staan.
Die eerste verdagte, ’n 42-jarige polisiesersant, is vroeër in hegtenis geneem en het reeds op aanklagte van ontvoering en afpersing in die hof verskyn. Die ander verdagtes word deur dieselfde aanklagte in die gesig gestaar en sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.
Die ondersoek duur voort.
Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, sê: “Die veilige terugkeer van jong Kamogelo is ’n oomblik van groot verligting vir die familie, die gemeenskap en vir ons almal. Ek loof ons lede vir hul standvastige pogings. Hulle het onophoudelik gewerk en elke leidraad opgevolg onder ernstige openbare druk. Ons sal sorg dat geregtigheid geskied.”
Lees ook meer hier onder:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]




