NOORD-KAAP. – Die polisie het Vrydag onwettige sigarette met ‘n waarde van amper R4 m. by ‘n winkel op Upington gekonfiskeer.
Sers. Omphile Masegela sê inligting van onwettige sigarette wat glo deur ‘n winkel verkoop word, is deur Upington-grenspolisie en honde-eenheid ontvang. ‘n Operasie is geloods en inspeksie is by die winkel gedoen. Gedurende die inspeksie is die sigarette in ‘n stoorkamer aan die agterkant van die perseel gevind. Die winkeleienaar kon nie fakture vir die sigarette voorsien nie.
Die sigarette van R3 901 500 is deur die polisie gekonfiskeer.
‘n Navraag vir verdere ondersoek is deur die polisie geopen.