NOORDWES. – Altesaam 17 verdagtes is Vrydag in Tweelaagte, naby Sun City, in hegtenis geneem met 32 onwettige vuurwapens in hul besit.
Kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die Valke, sê die arrestasies volg na ‘n klagte van die eienaars en personeel van ‘n chroomaanleg wat beweer het dat hulle lewens bedreig word. Die Valke het die saak ondersoek en inligting ontvang oor verdagtes wat in ses bakkies rondbeweeg.
Met vinnige optrede deur die Valke en die Gauteng Verkeer-saturasie-eenheid is die verdagtes met hul vuurwapens onderskep. Mogale het bevestig dat die verdagtes binnekort in die hof sal verskyn.





