GAUTENG. – Ses verdagtes is vroeër vandag in Germiston, tydens ‘n cross pavement-rooftog doodgeskiet toe ‘n skietery met wetstoepassers uitgebreek het.
Cross pavement-rooftogte kan beskryf word as voorvalle waar geld onderskep word, soos wanneer dit na ‘n stilstaande gepantserde voertuig gedra of oorgelaai word, of soos wanneer dit van ‘n stilstaande gepantserde voertuig afgelaai word.
Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke en lt.kol. Mavela Masondo, provinsiale woordvoerder van Gauteng, sê in ‘n gesamentlike verklaring inligting is ontvang van ‘n cross pavement wat in Germiston in die middestad sou plaasvind.
Lede van verskeie polisie-eenhede en ander rolspelers is na die gebied ontplooi.
“Toe die lede die area nader, is ‘n uitkyk vir ‘n IX 35 ontvang, nadat G4S by die Top Bets met wapens beroof is.”
Die polisielede het die voertuig opgemerk wat roekeloos bestuur is. Daar is probeer om dit te stop en ‘n skietery het uitgebreek. Die polisie het teruggeskiet, waarna die verdagtes beheer oor die voertuig verloor en in ‘n paal vasgery het.
“Ses verdagtes is noodlottig gewond en nog ‘n verdagte is in ‘n ernstige toestand.”
Soos voorheen deur Nuusflits berig, is ‘n AK 47 en vier handwapens gekonfiskeer.
“Die kontanttrollie is teruggevind. Die voertuig wat die verdagtes gebruik het, is in Brooklyn as gesteel geïdentifiseer.”





