KWAZULU-NATAL. – ’n Pa en sy tienerseun het Sondag in ‘n enkelmotorvoertuigongeluk op die N3 naby Marketweg gesterf. Een van die oorledenes is op die toneel dood verklaar, terwyl nog een weens beserings in ‘n hospitaal gesterf het. ‘n Derde persoon het ernstige beserings opgedoen.
Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance Service sê dié diens het hulle na die toneel waar ‘n voertuig gerol het, gehaas. Een insittende is op die toneel dood aangetref. Paramedici het onmiddellik mediese sorg aan twee ander persone verleen, een met kritieke beserings en die ander met ernstige beserings.
Ná stabilisering is albei beseerdes na ’n plaaslike hospitaal vervoer. Die kritiek beseerde persoon het egter vanweë sy beserings gesterf.
Die besonderhede oor die oorsaak van die ongeluk is nog onduidelik en word deur die betrokke owerhede ondersoek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





