KWAZULU-NATAL. – Die wrak van ‘n ligte vliegtuig met registrasienommer ZS-KFB waarna gesoek was, is Maandag deur die burgerlugvaart-reddingskoördinasiesentrum in die Greytown-gebied gevind. Drie insittendes is op die toneel dood verklaar. Burgerlugvaart het bevestig twee vliegongelukke het Sondagaand in die provinsie plaasgevind.
Sisa Majola van burgerlugvaartowerheid sê in ‘n verklaring aan Nuusflits drie ligte vliegtuie het deel gevorm van ‘n los formasie wat vanaf Virginia-lughawe in Durban na Wonderboom-lughawe in die noorde van Pretoria vertrek het. Die vliegtuie wou glo by Ladysmith-lughawe in noordelike KZN brandstof ingooi, maar omdat die lughawe nie oor nagfasiliteite beskik nie, is die formasie na die nabygeleë Greytown-lughawe herlei.
Die eerste ongeluk van ‘n Piper Cherokee, met registrasienommer ZS-CZU, het in bosse naby die Greytown-lughawe gebeur. Die twee vlieëniers aan boord is nie beseer nie, maar die vliegtuig is beskadig. Die tweede vliegtuig van die drie het veilig geland. Vanoggend is ‘n amptelike soektog van stapel gestuur na die derde vliegtuig, met registrasienommer ZS-KFB, waarna die wrak gevind is.
AIID-ondersoekers is na albei plekke gestuur om inligting in te samel. ‘n Voorlopige verslag sal binne 30 dae op die Suid-Afrikaanse-burgerlugvaartowerheid (SACAA) se webwerf gepubliseer word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





