MPUMALANGA. – ’n Petroljoggie (34) is in hegtenis geneem nadat hy glo brandstofkaarte gekloon en sowat R469 000 van motoriste se rekeninge bekom het.
Lt.kol. Magonseni Nkosi van die Valke sê ondersoeke het begin nadat ondersoekers van twee banke en ’n vulstasie ’n klagte aangemeld het oor verdagte transaksies met motoriste se brandstofkaarte. Die finansiële instellings se ondersoeke het bevind dat verskeie kaarthouers finansiële verliese gely het.
Die Valke in Middelburg het die inligting opgevolg en Vrydag op die vulstasie toegeslaan. Tydens ’n deursoeking is ’n kaartkloningstoestel glo in die verdagte se besit gevind, waarna hy in hegtenis geneem is.
Die verdagte sal na verwagting Maandag in die Balfour-landdroshof voorkom.





