LIMPOPO. – ‘n Peutermeisie (20 mnde.) het Vrydagmiddag in ‘n asblik met water by haar huis in Xigalo-woonbuurt verdrink.
Kol. Malesela Ledwaba sê die polisie is na ‘n klagte van ‘n kind wat in ‘n asblik met water geval het, ontbied. Met aankoms by die huis het die lewelose liggaam van die kind in die huis op die vloer gelê. Voorlopige ondersoek dui aan die boetie van die peuter het omstreeks 15:00 by die huis aangekom, die ma was besig met huistake. Die ma en ander familielede het agtergekom die peuter is nie daar nie. Sy is in die asblik met water gekry. Sy het geen lewe getoon nie. Nooddienste is ontbied, maar die peuter is dood verklaar.
‘n Geregtelike doodsondersoek is deur Malamulele-polisie geopen. Die meisie se dood word ondersoek.





