Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) berei voor om sy veilige-feesseisoen-veldtog te loods. Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, het gemeenskappe gewaarsku dat die polisie geen aanvalle op sy lede sal duld nie. “Respekteer die blou uniform – en die blou uniform sal jou beskerm. Wees waaksaam, meld misdaad aan, en help om ons land veilig te hou.”
Brig. Athleanda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê Masemola het die onlangse aanval op polisielede in Kimberley ten sterkste veroordeel en gesê die inhegtenisneming van die twee verdagtes moet dien as ’n duidelike waarskuwing dat aanvalle op polisielede of geslagsgebaseerde geweld teen beamptes nie geduld sal word nie. Volgens Masemola sal enigiemand wat polisiebeamptes probeer verhinder om hul grondwetlike mandaat uit te voer, deur die volle mag van die gereg in die gesig gestaar word.
“‘n Aanval op ’n polisielid is ’n aanval op die staat en op nasionale veiligheid. Wanneer mense beamptes verhinder om hul werk te doen, word hulle deel van die probleem. Ons prys die polisielede wat, ondanks die gevaar en gewapen met vuurwapens, kalm en met selfbeheersing opgetree het om die verlies van lewe te voorkom.”
Hy het verder verduidelik dat inmenging in die uitvoering van polisiefunksies ’n misdryf ingevolge artikel 67 van die Suid-Afrikaanse Polisiewet 1995, is. Beamptes is gemagtig om redelike mag te gebruik om sulke weerstand te oorkom. Masemola het gesê polisielede is ook ouers en gesinsmense wat hul eie veiligheid op die spel plaas om wet en orde te handhaaf en almal binne die landsgrense te beskerm. Hy het gemeenskappe aangemoedig om polisiebeamptes te ondersteun en respek vir die blou uniform te hê.
“Misdaad kan net uitgeroei word as gemeenskappe die wet eerbiedig en saam met die polisie werk,” het hy gesê. “Wanneer mense beamptes verhinder om hul werk te doen, word hulle deel van die probleem.”
Masemola het beklemtoon dat die SAPD se grondwetlike verantwoordelikheid is om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek, openbare orde te handhaaf, en inwoners en eiendom te beskerm. “Wanneer ander weghardloop vir gevaar, hardloop polisielede reguit daar in om lewens te red.” Aan polisielede het Masemola gesê: “Voer julle pligte met eer en dissipline uit. Bly binne die wet, maar moenie huiwer om op te tree wanneer dit nodig is nie. Gebruik altyd redelike en proporsionele mag.” Hy het bygevoeg dat die veiligheid van polisielede voortdurend deur opleiding, taktiese ontwikkeling en die voorsiening van moderne beskermingstoerusting bevorder word.
Mathe sê met die aanvang van die feesseisoen sal die polisie sy pogings verskerp om geweldsmisdade, gewapende rooftogte, kontant-in-transito-aanvalle en geslagsgebaseerde geweld te bekamp.





