LIMPOPO. – Twee renosters is onderskeidelik Vrydagmiddag en Saterdagoggend by ‘n wildreservaat in Makhado (Louis Trichardt) vir hulle horings doodgemaak. Die polisie is op die beweerde stropers se hakke.
Kol. Malesela Ledwaba sê die polisie in die provinsie, asook die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, het ‘n enorme soektog na die verdagtes geloods. Volgens werknemers op die reservaat het hulle tydens patrollie Saterdagoggend omstreeks 07:00 op die twee renosters wat geskiet is, afgekom.
Dit wil voorkom of die verdagtes die renosters geskiet, die horings verwyder en toe oor ‘n draad gespring het om van die toneel te vlug.
Na die ontdekking is die polisie in kennis gestel en ‘n saak van renostersropery word ondersoek.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan konst. Madoro Ndivhaleni by 082 319 9545 bel.





