Polisie skiet vyf verdagtes dood

Lees ook :

Foto's: SAPD

OOS-KAAP. – Die polisie het Maandagoggend binne enkele ure inhegtenisnemings gemaak en vyf verdagtes doodgeskiet nadat ‘n transitoroof op die N6-pad naby Macleantown gepleeg is.

Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, sê ‘n SBV-voertuig is na bewering omstreeks 06:00 vanaf Oos-Londen onderweg na Stutterheim deur verdagtes in voertuie in ‘n lokval gelei. Drie veiligheidswagte is beseer toe die kontantwa tydens die aanval op sy sy beland het. ‘n Begeleidingsvoertuig het ook onder geweervuur gekom, maar hulp is ontbied. Die verdagtes het met ‘n onbekende bedrag geld van die toneel gevlug en drie van hulle voertuie agtergelaat. Springstof is ook op die toneel gevind.

Mgolodela sê met ondersoek is ontdek die voertuie is in ander provinsies as gesteel aangemeld.

‘n Paar uur later is inligting ontvang wat deur verskeie polisie-eenhede na Kom-woonbuurt en Keiskammahoek opgevolg is. Mgolodela sê met aankoms is daar op die polisie geskiet, waarna teruggeskiet en vyf verdagtes noodlottig gewond is.

Die polisie het kontant in die oorspronklike sakke, 3 x AK 47-aanvalsgewere, ‘n R1-geweer, 4 x R5-gewere en 17 magasyne met ‘n groot hoeveelheid ammunisie in die woning van die verdagtes gevind en daarop beslag gelê. Die eienaar (58) van die huis is in hegtenis geneem en sal in die King William’s Town-landdroshof voorkom.

Mgolodela sê tydens ‘n opvolgondersoek is drie verdagtes in ‘n Porsche met ‘n GP-registrasieplaat tussen Queenstown en Cradock in hegtenis geneem. ‘n Padblokkade is buite Tarkastad gehou en die voertuig het geweier om stil te hou, waarna ‘n hoëspoedjaagtog gevolg het. Die polisie het die voertuig tot stilstand gedwing. Drie verdagtes is in hegtenis geneem. Geld in hope van R100- en R200-note in die oorspronklike geldsakke, vier selfone en die Porsche Cayenne, wat volgens inligting in Gauteng gesteel is, is gekonfiskeer.

Die verdagtes sal Donderdag in die Cradock-landdroshof verskyn.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App