Polisiehoof bekommerd oor kinders betrokke by bendegeweld in Westbury

Lees ook :

Foto's: Vision Tactical

GAUTENG. – Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, het bevestig dat die polisie voortdurend aan die bekamping van bendegeweld in Westbury werk. Masemola het sy kommer uitgespreek oor die betrokkenheid van kinders by bende-aktiwiteite. Dit volg nadat sewe kinders Dinsdag in Westbury geskiet is, van wie twee dood verklaar is.

Genl. Masemola sal die Westbury-gebied besoek en sy rondte by die Sophiatown-polisiekantoor begin om ontplooiings in die gebied te monitor.

Volgens Masemola het hy terugvoering van die provinsiale bestuur oor die situasie in die gebied ontvang. Tydens die vergadering was onder meer die provinsiale kommissaris, die afdelingskommissaris van speur-en-forensiese dienste en misdaadintelligensie, asook die hoofde van die teenbende-eenhede teenwoordig. Masemola sê daar is opgemerk dat kinders, so jonk as 13 tot 17 jaar oud, deur ouer bendelede gewerf en gebruik word om hulle vuilwerk te doen. Hy het verduidelik dat baie van hierdie sake in die hof teruggetrek word, omdat die verdagtes minderjarig is en dan na afleiprogramme verwys word. “Ons veg teen ’n groot uitdaging, maar hierdie stryd kan slegs gewen word as ouers en voogde betrokke raak,” het hy bygevoeg.

Volgens genl. Masemola was die twee oorledenes 17 en 19 jaar oud, terwyl die oorlewendes almal jonger as 19 is, met die jongste 13. Die polisie ondervra ook die eienaar van die huis waar die voorval plaasgevind het oor die betrokkenheid van die minderjariges. “Die gesinslewe speel ’n belangrike rol om die werk van die polisie te ondersteun. Dit moet by die huis begin, waar ouers dissipline en toesig instel,” het genl. Masemola gesê.

Masemola het bevestig dat Westbury een van agt gemeenskappe in Gauteng is waar die teenbende-eenheid ontplooi is. Ander gebiede sluit Eldorado Park, Toekomsrus, Langlaagte, Reiger Park en Nigel in. “Sedert Januarie is 19 bendelede in Westbury gearresteer en 11 is skuldig bevind en vir bendeverwante misdade gevonnis,” het hy gesê. “Ons werk daaraan om polisiëring en sigbaarheid te versterk, maar dit bly ’n uitdaging wanneer gemeenskappe bendelede beskerm.”

Hy het beklemtoon dat die polisie weet wie hulle soek en vol vertroue is dat die verdagtes, glo vier tieners, gevind sal word.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief