LIMPOPO. – Titus Maake (31) wat homself as ‘n kaptein in die polisie voorgedoen het, is Woensdag deur die Polokwane-landdroshof (Pietersburg) met R3 000 beboet of moet alternatiewelik twee jaar tronkstraf uitdien.
Volgens kol. Malesela Ledwaba is Maake vir bedrog en korrupsie gevonnis.
Ledwaba sê die hof moes aanhoor hoe Maake homself in 2019 as ‘n polisiekaptein wat by die provinsiale kantoor vir menslikehulpbronbestuur werk, voorgedoen het. Hy het ‘n klaagster wat vir die polisie wou werk, gebel en gevra sy moet geld vir ‘n mediese verslag inbetaal. Die klaagster het die voorval by die polisiestasie in Polokwane aangemeld en ‘n bedrogsaak is geregistreer.
Die saak is na sers. Mokhepho Gafane van die provinsiale moord-en-roofeenheid oorgeplaas, waarna Maake gedurende Februarie 202 by sy huis in Seshego in hegtenis geneem is. Gafane het Maake se betrokkenheid by die werksoek-verneukspul ontbloot.
Lt.genl. Thembi Hadebe het Gafane vir haar ondersoekwerk en die suksesvolle vonnis geprys.





