KWAZULU-NATAL. – ‘n Konstabel verbonde aan Ntambanana-polisiekantoor is van diens onttrek en onderworpe aan die uitkoms van ‘n ondersoek, nadat hy gesien is waar hy homself glo openlik met ‘n politieke party geassosieer het.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring artikel 46 van die polisiewet 68 van 1995 verbied ’n polisielid om openlik steun te betoon of hom- of haarself met ’n politieke party te assosieer, enige pos of amp in ’n politieke party te beklee, enige kenteken of identifikasiemerk van ’n politieke party te dra, of op enige ander wyse partypolitieke belange te bevorder of te benadeel.
Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, provinsiale kommissaris, het die distrikskommissaris van King Cetshwayo opdrag gegee om die konstabel onmiddellik uit alle operasies te onttrek hangende ’n ondersoek na sy beweerde betrokkenheid by politiek. Die betrokke konstabel is glo gesien terwyl hy die drag van ‘n politieke party aangehad en homself aktief by die politieke aktiwiteite van ’n party betrek het.
Daar word van polisiebeamptes verwag om ten alle tye apolities en neutraal te wees. Enige assosiasie met ’n politieke party deur ’n polisielid het die potensiaal om die naam van die organisasie in oneer te bring.
Netshiunda sê Mkhwanazi sal ook met PSIRA in verbinding tree, om ‘n bewering te ondersoek dat dieselfde konstabel ’n veiligheidsmaatskappy besit wat onder meer VIP-beskermingsdienste lewer. Geen polisielid mag betrokke wees in die veiligheids-, drank- of taxi-industrie nie.
“Gemeenskapslede word aangemoedig om polisielede wat hulleself inlaat by politiek en bedrieglike besighede wat die integriteit van die SAPD in gedrang bring, aan te meld,” sê Netshiunda.





