Brekende Nuus
Afrikaans

Reeksverkragter swaar gevonnis

Foto: Ter illustrasie Canva
Foto: Ter illustrasie Canva

OOS-KAAP. – Xolani Gcelu (35) is Donderdag deur die Mthatha-hooggeregshof op altesaam agt verkragtingsaanklagte gevonnis. Hy was onbekend aan al sy slagoffers.

Sy slagoffers was tussen agt en 27 jaar oud. Vyf van die slagoffers was skoolgaande, van wie een swanger geword het.

Kol. Priscilla Naidu sê Gcelu se misdaadtog het in 2016 begin. Hy het by jong vroue se huise ingebreek. Ander misdade deur hom sluit ontvoering, ernstige aanranding, poging tot moord, roof, en roof met verswarende omstandighede in. Hy is deur DNS met agt sake in die Tsolo- en Libode-areas gekoppel. Gcelu is gedurende Julie 2019 in hegtenis geneem en hangend DNS-resultate se uitslag, is die aanklag teruggetrek. In September 2022 is hy weer in hegtenis geneem en in April op 34 aanklagte teen hom skuldig bevind.

Die agt lewensvonnisse en ander vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.

Speur.sers. Ndileka Bokolo is vir die suksesvolle afhandeling van die ondersoek en die vonnisoplegging geprys.