KWAZULU-NATAL. – ‘n Roofslagoffer het Maandagmiddag bo-oor ‘n gewapende verdagte wat hom glo eers beroof en toe probeer vlug het, gery.
Reaction Unit South Africa sê die operasionele sentrum het omstreeks 16:40 oproep vir hulp ontvang na vier verdagtes glo ‘n groente-en-vrugte-winkeleienaar van ‘n onbekende bedrag geld en selfone beroof het.
Die rowers het na bewering in ‘n silwerkleurige Toyota Avanza probeer vlug waarna die winkeleienaar glo met sy Toyota Fortuner in hulle vasgery het. Een van die verdagtes het glo uitgeval en die winkeleienaar het bo-oor hom gery, terwyl sy makkers gevlug het. Hierna het die winkeleienaar die verdagte aangehou en met aankoms op die toneel aan reaksiebeamptes oorhandig.
Rusa sê ‘n groot bedrag geld en ‘n gesteelde selfoon van die roof is in die verdagte se besit gevind. ‘n Rewolwer, waarvan die reeksnommer afgevyl is en ses rondtes ammunisie is langs die verdagte in ‘n bos gevind.
Die verdagte en bewysstukke is aan die Phoenix-polisie oorhandig.





