Ek wil graag drie verskillende gedagtes met jou deel wat op die oog af niks met mekaar te doen het nie, maar saam vorm dit ’n groter prentjie.
Kan jy agterkom wat die verband is voordat ek dit verduidelik?
Kom ons begin:
1. Wat, dink jy, is die belangrikste verbintenisse wat ’n mens in die lewe kan maak?
Ek glo daar is verskeie, maar vir my as gelowige kom dit neer op hierdie twee:
jou toewyding aan God – en jou toewyding aan jou lewensmaat.
2. Openbaring 3:16 — “Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie,
sal Ek jou uit my mond spuug.”
3. Mag ’n getroude persoon iemand anders se skoonheid bewonder?
Dié dwalende oë van getroude mense pla my al ‘n geruime tyd.
En al is dit deur die bank verkeerd — ongeag wie jy is of wat jy glo — raak dit my besonder diep wanneer ek dit by gelowiges teenkom. Te dikwels het ek al ervaar dat, terwyl ek in gesprek met iemand is, sy oë keer op keer wegglip na ’n vrou wat nie syne is nie.
En ja, mans is meestal die skuldiges, maar ons kan die vrouens ook nie heeltemal vryspreek nie.
Dan vra ek myself af:
“Jy is ’n getroude man — hoekom kan jy nie jou oë van iemand afhou wat nie jou vrou is nie?” Hoe werk dit?
Ja, ons is almal mens, en mooi bly mos maar mooi. Maar daar is tog ’n verskil tussen erkenning en begeer, of hoe?
Kom ons kyk weer na punt nommer 1:
Ek het gesê dat toewyding aan God en aan jou lewensmaat die belangrikste verbintenisse is wat ’n mens kan aangaan. Weet jy dat jou huwelik die beste beeld is van jou verhouding met God?
Om ontrou te wees aan jou huweliksmaat (volgens Jesus, in Matt. 5:28, is daardie kyk/begeer in jou hart reedds egbreuk), is op geestelike vlak dieselfde as om jou oë van God af te haal en in begeerte na die wêreld en sy afgode te loer.
As jy ernstig oor jou verhouding met die Here is, soos baie van ons is, dink jy dis reg om soms by ’n ander godsdiens-byeenkoms in te loer en hul gode te aanbid?
Stel jou voor iemand sê: “Ek’s lief vir Jesus, maar ek wens Hy was meer soos die een wat hulle in hierdie tempel aanbid.”Jy gril seker net om dit te hoor — en ek stem saam: dit sou godslasterlik wees. Maar dis presies wat gebeur as jy ‘n ander vrou of man begeer.
As jou verhouding met jou huweliksmaat ’n simboliese voorbeeld is van jou verhouding met God:
* hoekom verontagsaam jy dan jou maat op daardie manier?
* Hoekom loer jy rond wanneer jy dink niemand sien jou nie?
* Hoekom vee jy WhatsApp-gesprekke uit sodat niemand dit hoef te sien nie?
Jy raak kwaad vir godslastering, maar jy is self skynheilig as dit by jou ander verbintenis kom.
Jesus het nie verniet gesê nie dat, as jy lou is, Hy jou sal uitspoeg. Jy is óf heeltemal in, óf heel uit — daar is geen middeweg nie. God stel nie belang in ’n verdeelde hart nie. Jy kan nie vir Hom en vir Mammon aanbid nie.
Dieselfde geld vir jou huwelik: Is jy in, of is jy uit?
As jy lou is, vind dan ‘n manier om die liefde weer aan te wakker. As dit voorheen daar was, kan dit tog sekerlik weer terugkom. En al was daar nooit nie, ons God is ‘n God van die onmoontlike. Doen dit op Sy manier, gee vir Hom beheer. Gaan vir berading, kry hulp, leer, groei, verbeter. Maar as daar egbreuk was, en daar is nie meer iets te redde nie, spoeg dit dan uit en beweeg aan met jou lewe.
My vriend, hoe sou jy daaroor voel as God sou besluit om van jóú te skei weens jou geestelike louheid? Weet jy dat dit moontlik is en Hy dit wel kan doen?
God wil nie hê ons moet skei nie, net soos Hy ook nie van ons wil skei nie. Hy is ‘n God van genade en van tweede kanse. Maar daar kom ‘n tyd, by mens en by God, waar die laaste lyn oortree is – en dan is dit verby.
God roep ons tot volledige toewyding – nie net met ons woorde nie, maar ook met ons dade, gedagtes EN oë.
Soos in ons verhouding met Hom, so ook in ons huwelik – getrouheid vereis 100% oorgawe, nie gedeeltelik nie.
Mag ons nie net gelowiges wees in naam nie, maar mense van integriteit — in die openbaar én in die geheim.
Want dít is wat ware toewyding beteken: om in liefde te kies, elke dag — vir God, en vir die een aan jou sy.
Jesaja 1:18
“Kom nou, laat ons die saak uitmaak,” sê die Here. “Al is julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”
Jesaja 30:18
En daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die HERE is ‘n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!





