Om van kos te vas, is een van die gesondste dinge wat ‘n mens vir jou liggaam kan doen. Gaan lees gerus bietjie op oor al die voordele daarvan – dis werklik merkwaardig! Daarom probeer ek om minstens een dag per week te vas. Let egter op die woord “probeer” – dit is soms ‘n stryd!
Maar ek vas nie net vir die gesondheidsvoordele nie; daar is ook ‘n belangrike geestelike aspek daaraan verbonde. Wanneer die vlees swak is, is die gees sterk. Ek ervaar dikwels dat ek gedurende my nul-per-mond dae vinniger ‘n deurbraak kry as ek iets van my Vader nodig het – hetsy wysheid, openbaring, of iets anders.
Vanoggend het ek my vas met ‘n bakkie jogurt en neute gebreek en myself ‘n paar uur later met ‘n pakkie Whispers bederf. Daardie sjokoladeballetjies brand skoon van soetigheid en plesier, presies soos ek daarvan hou!
Later het ek toevallig ‘n man se getuienis oor vas raakgesien, en ek het geweet dit was die Here wat ook iets met my wou deel.
Kom ons kyk na Levitikus 3:16:
“En die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as vuurofferspys vir ‘n lieflike geur. Al die vet behoort aan die HERE.”
In die Ou Testament moes die priesters by die tempel offers bring, en hier sê die HERE duidelik dat al die vet aan Hom behoort. In die Nuwe Testament leer ons dat ons liggame tempels van God is. Met ander woorde, wanneer jy vas en jou liggaam vet verbrand, is dit asof jy ‘n offer bring – ‘n lieflike geur vir die Here!
Hoe wonderlik is dit nie? Natuurlik is dit nie die enigste rede waarom ons vas nie, maar ek glo dit is een daarvan, en dis nogal ‘n cool gedagte!
As jy nog nooit gevas het nie, probeer dit gerus. Dis ‘n wen-wen vir jou én vir God!





