Rugby, soos ons dit ken, kan dalk nie dieselfde wees ná die koronavirus, en gepaardgaande maatreëls om die verspreiding daarvan te keer, nie.
Bill Beaumont, baas van wêreldrugby, sê die voorstel dat spelers ‘n afstand van twee meter tussen hulle moet handhaaf, sal maak dat dié sportsoort slegs met “groot vertroue” gespeel kan word nadat ‘n entstof daarteen gevind is.
“Dit is net nie moontlik nie,” sê Beaumont oor die idee van ‘n afstand van twee meter. Rugby is ‘n kontaksport – en die virus moet eers uitgewis wees, of spelers moet daarteen ingeënt wees, voordat die spel kan voortgaan, sê hy.
Volgens Beaumont, wat gemoeid was met tien nuwe proefnemings om kontak in rugby te verminder, kan nuwe reëls minder skrums en lynstane beteken.
Dit word egter aan elke land oorgelaat om dié voorstelle op die proef te stel, berig Stuff.co.nz.
In Nieu-Seeland, waar die virus grootliks uitgeroei is, sal “normale” rugby binne enkele weke hervat word.
Rugby in Suid-Afrika sal egter eers gedurende vlak 1 van inperking na normaal kan terugkeer. Wat “normaal” is, staan egter nog te besien.
Verskeie rugbytoernooie hier te lande is deur die pandemie beïnvloed, soos die Wildeklawer Skole-rugbytoernooi, asook die Vier Nasies-toernooi, wat vandeesmaand sou begin.
Superrugby, die grootste rugbytoernooi in die wêreld, is ook voorlopig gestaak. Dit is nog onseker of dit later vanjaar in November voortgesit sal word.
“As ons geweet het wanneer grendeltydperke opgehef gaan word, sou dit makliker gewees het om te beplan,” het Beaumont gesê.
Rugby in Suid-Afrika is baie meer ontwrig as in ‘n land soos Nieu-Seeland, waar die Superrugby Aotearoa-toernooi oor twee weke met ‘n wedstryd tussen die Highlanders en die Chiefs begin.
Lees nog FiND iT artikels hier.