GAUTENG. – Die strafsaak teen Julius Mkhwanazi, die geskorsde adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisepolisiedepartement (EMPD), en Kagiso Lerutla, die Ekurhuleni- munisipale bestuurder, is Donderdag in die Boksburg-landdroshof tot 13 Julie uitgestel. Die verdediging het die uitstel versoek om verdere besonderhede van die staat se saak aan te vra.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê die hof het die versoek toegestaan. Mkhwanazi en Lerutla staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog en regsverydeling. Volgens die staat spruit die saak uit ‘n beweerde voorval in Maart 2019. Lerutla is destyds glo vir ‘n spoedoortreding aangekeer en moes in die Boksburg-landdroshof voorkom. Die staat beweer hy en Mkhwanazi saamgespan het om te voorkom dat Lerutla self in die hof hoef te verskyn omdat hy ‘n werksonderhoud moes bywoon. Die vervolgingsgesag voer aan dat ‘n derde persoon glo gewerf en betaal is om hom as Lerutla voor te doen. Dié persoon het na bewering in die hof verskyn en dokumente met Lerutla se persoonlike besonderhede ingevul asof hy die beskuldigde was. Volgens die staat het Mkhwanazi en Lerutla na bewering sowat R400 000 gedeel in verband met die beweerde bedrogspul.
Mkhwanazi is op 18 April vanjaar by sy woning vasgetrek, terwyl Lerutla ‘n dag later by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem is toe hy van Kaapstad teruggekeer het. Die twee bly op borgtog en hul borgtogvoorwaardes is tot hul volgende hofverskyning op 13 Julie verleng.





