Brekende Nuus
Afrikaans

Saak teen sokkerspeler oor dood van 9-jarige uitgestel

Foto: Op lêer
Foto: Op lêer

GAUTENG. – Mokete Sean Mogaila (29), sokkerspeler, se saak is vir oorhandiging van die hofdossier in die Tembisa-streekhof tot 2 Desember uitgestel. Mogaila staan tereg op aanklagte van roekelose bestuur, vlug van die ongelukstoneel en strafbare manslag, oor ‘n ongeluk wat Gomolemo Mavimbela (9) se lewe geëis het.

Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die staat beweer dat Mogaila se voertuig in die teenoorgestelde verkeersbaan beland en ’n voertuig getref het waarin ’n vrou en twee kinders was. Gomolemo het gesterf, terwyl haar ma en ’n 13-jarige seun ernstige beserings opgedoen het. Die polisie het glo ná die ongeluk alkoholbottels en vermoedelik dwelms in Mogaila se voertuig gevind. Hy het aanvanklik die toneel verlaat, maar het homself later dieselfde dag aan die polisie oorgegee. Mogaila bly tot sy volgende hofverskyning vry op borg.