Die opsporingstelsel van Adam Tas, SA-sanger, se geborgde “Byt en Buskruit”-bakkie het die voertuig onlangs in die noorde van Mosambiek opgevang nadat dit op 23 Augustus by die Newlands Total-vulstasie in Pretoria gesteel is.
Volgens Tas is die bakkie duidelik uitkenbaar met die “Byt en Buskruit”-handelsmerk. Hy het gevra dat dit aan die polisie gerapporteer moet word indien dit opgemerk word, of net “teruggekry word soos ek sou maak”, soos hy dit tong in die kies stel.
Op 28 Augustus het Tas op sosiale media gesê sy bakkie is nog nie teruggevind nie, maar het ‘n beloning van R10 000 uitgeloof vir ‘n Gibsons SJ200-kitaar wat vermis word. “As jy die ou wat hom verkoop, lewend vir my kan gee, nog R10 000…. Wilde Weste met Wilde Weste-reëls”, spot die sanger.
Tas het vermeende korrupsie onder grensposlede uitgelig toe hy op 5 September sê sy gesteelde bakkie is danksy die opsporingstelsel op die betrokke dag in die noorde van Mosambiek opgemerk. “Ek los dit vir nou net hier…. my volgende plasing sal afhang van SAPS se optrede met die grenspossie-mannetjies.”
