GAUTENG. – Twee verdagtes, ‘n plaaslike hoofman (55) en ‘n sluipmoordenaar (23), is binne ‘n week vandat 121 dossiere wat op 28 Augustus na die polisietaakspan wat politieke moorde ondersoek, terugverwys is, vir die moord op Xolani Ndlovu Mtombela, ‘n fluitjieblaser, in hegtenis geneem.
Brig. Athleanda Mathe, polisiewoordvoerder, sê Ntombela is in November 2022 in sy huis in Emasosheni, Mpophomeni (KwaZulu-Natal) doodgeskiet. Volgens die voorlopige ondersoek is hy vermoor omdat hy onwettige grondverkope in die gebied ontbloot het. Die twee verdagtes het Maandag op aanklagte van sameswering tot moord, moord en die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie in die Howick-landdroshof verskyn.
Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, het die taakspan se werk as ‘n deurbraak beskryf. “Die omkeertyd en spoedige inhegtenisnemings is bemoedigend en ʼn stap in die regte rigting. Ons doen ʼn beroep dat die taakspan voortgaan met die ondersoeke in die oorblywende 120 dossiere. Gesinne het antwoorde en afsluiting nodig.”.
Sedert die stigting van die taakspan in Julie 2018 is meer as 130 beskuldigdes reeds skuldig bevind aan moord, poging tot moord en sameswering tot moord.





