MPUMALANGA. – Nyiko Nyathi (42), ‘n polisiesersant, het haarself Maandag by Bosbokrand-polisiestasie, waar sy gestasioneer is, oorhandig, waarna sy vir die beweerde moord van haar man en nog ‘n vrou, asook ontvoering, in die hof verskyn het.
Brig. Donald Mdhluli sê volgens inligting is Lawrence Alba Mashego (44) in Februarie 2024 deur ‘n groep gewapende mans by sy huis in Boikutsong, in Bosbokrand, aangeval. Hy is van sy Toyota Quantum en ‘n Ford Escort, waarmee die verdagtes hom ontvoer en na ‘n sekere huis in Zoeknoeg gery het, beroof. Victoria Lebyane (44), Masghego se vriendin, was by hierdie huis teenwoordig en sy bankkaarte is in haar besit gekry. R4 000 kontant en die bankkaarte is daarna van Mashego geroof en beide Mashego en Lebyane is doodgeskiet.
Tydens die polisie-ondersoek is vier verdagtes gearresteer. Een het skuldig gepleit en is 77 jaar tronkstraf opgelê. Met verdere ondersoek is bevind Nyathi is moontlik by die moorde van Mashego en Lebyane betrokke.
Nadat Nyathi Maandag in die hof verskyn het, is die saak vir ‘n formele borgaansoek tot Woensdag 12 Maart uitgestel.






