KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou (37), asook meisies – twee van 17 jaar, ‘n 15-jarige, ‘n vyfjarige en ‘n vierjarige – is Maandagaand in die Entshele-area in Ezakheni doodgeskiet.
Kol. Robert Netshiunda sê ‘n soektog na die verdagtes is geloods. Volgens inligting het 12 persone in ‘n bakkie op die Helpmekaarpad gereis. ‘n Ander voertuig het hulle genader en lukraak op die bakkie geskiet. Altesaam ses persone, almal vroulik, is op die toneel dood verklaar.
Twee mans en drie vroue wat skietwonde opgedoen het is na ‘n hospitaal geneem. Slegs een vrou (21) het sonder beserings ontkom.
Die motief vir die skietery is onbekend en die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting oor die verdagtes om na vore te kom.





