VRYSTAAT. – ‘n Transitorooftog het Saterdag omstreeks 13:30 buite ‘n mall in Mangaung plaasgevind. Die polisie het binne ure sewe verdagtes vasgetrek.
Kapt. Loraine Earle sê die groep gewapende verdagtes het ‘n veiligheidsvoertuig in ‘n BMW onderskep. Die polisie was vinnig op die toneel en ‘n oor-en-weer-skietery het uitgebreek. Niemand is beseer nie. Met meer mannekrag om die speurders by te staan, is sewe verdagtes op verskeie plekke in Mangaung, waar hulle weggekruip het, in hegtenis geneem.
Earle sê geld wat volgens vermoede tydens die insident gebuit is, twee vuurwapens, onder meer ‘n AK-47 en ‘n pistool met ammunisie, asook twee voertuie, is gekonfiskeer.
Die polisie vra die publiek om vir hulle eie veiligheid van misdaadtonele weg te bly. Video’s van die transitorooftog is op sosiale media versprei. Hierdie opnames kan ‘n onskuldige lid van die publiek op die misdaadtoneel plaas wanneer forensiese bewyse versamel word en kan so ‘n persoon aanspreeklik gehou word.
Enigiemand met inligting word gevra om na vore te kom.








