MPUMALANGA. – Michael Sali Mabena (57), die skoolhoof van Laerskool Nelson Ngubeni, is Woensdagaand omstreeks 21:30 tydens ‘n beweerde huisroof in Vosman met ‘n mes doodgesteek.
Kol. Donald Mdhluli sê Vosman-polisie is na die toneel ontbied. Die oorledene se liggaam is met verskeie steekwonde in die slaapkamer aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar. Na bewering het verdagtes die huis ingedring en die oorledene van ‘n plasma-televisiestel en sy swart KIA-sportnutsvoertuig met registrasienommer DSM 504 MP beroof.
‘n Huisroofdossier is geopen en die polisie werk onverpoosd om die verdagtes op te spoor.
Die polisie versoek enigiemand met inligting om na vore te kom. Inligting sal vertroulik hanteer word.





