KWAZULU-NATAL. – Die ondersoek na die dood van Inkosi Albert John Mvumbi Luthuli, strydfiguur en voormalige ANC-president, word Maandag 13 Oktober in die hooggeregshof in Pietermaritzburg vir die staat se slotbetoë hervat.
Natasha Ramkisson-Kara, NVG-woordvoerder, sê die ondersoek is op 14 April vanjaar onder leiding van adv. Elaine Harrison, direkteur van openbare vervolging in KZN, heropen.
Tydens die verrigtinge het die NVG ’n groot verskeidenheid getuies geroep, waaronder lede van die SAPD, beamptes van die Valke, forensiese en toneelrekonstruksie-deskundiges, mediese deskundiges, asook familielede, vriende en oud-strydgenote.
Luthuli het op 21 Julie 1967 gesterf nadat hy deur ’n goederetrein getref is, terwyl hy oor ’n spoorwegbrug naby sy huis oor die Umvoti-rivier gestap het. Hy het ernstige kopbeserings opgedoen, in ’n koma verval en later daardie dag in die hospitaal gesterf.
’n Geregtelike doodsondersoek kort ná sy dood het bevind dat dit ’n ongeluk was en dat daar geen bewyse van kriminele toedoen was nie. Tog bestaan daar al dekades lank twyfel oor die ware omstandighede van sy dood. In die ondersoek wat in 2025 hervat is, het deskundiges en familielede beweer dat die oorspronklike ondersoek en forensiese bevindings gebrekkig was. Daar word beweer dat Luthuli moontlik aangeval is voordat sy liggaam op die spoor gesit is om dit soos ’n treinongeluk te laat lyk.
Bronne: SAPD, NobelPrize.org, Britannica en Al Jazeera





