Brekende Nuus
Nuus

Soektog na 85-jarige volstruisboer duur voort

Foto's: OPSA en Hannes Visser

WES-KAAP. – ’n Omvattende soektog na die 85-jarige bekende Oudtshoorn-volstruisboer en voormalige rugbyspeler Saag Jonker duur voort, nadat hy Sondagmiddag deur vloedwater van die Olifantsrivier meegesleur is. Jonker het omstreeks 12:50 probeer om ’n laagwaterbrug sowat 3 km buite Oudtshoorn in die Rooiheuwel-gebied oor te steek toe die rivier sy bruin Toyota Land Cruiser meegesleur het. Hy is sedertdien vermis.

Jonker is ’n bekende figuur in die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf. Die Saag Jonker-groep, wat in Oudtshoorn gevestig is, het sedert 1976 ontwikkel tot ’n groot privaat geïntegreerde volstruisboerdery-, verwerkings- en bemarkingsgroep. Jonker is in 2000 as Suid-Afrika se Boer van die Jaar aangewys. Hy was ook ’n bekende rugbyspeler in Oudtshoorn en het vir die Oudtshoorn-rugbyklub uitgedraf. Volgens Oudtshoorn Courant het hy in 1967 aan die finale Springbokproewe deelgeneem.

Die Jonker-familie het in ’n verklaring gesê Jonker het die oggend sy gewone rondtes en inspeksies op plase gedoen en was op pad terug na sy huis in Oudtshoorn toe hy in sy voertuig meegesleur is. Duikers, hommeltuie en ’n AMS-helikopter is by die soektog betrokke. Die familie het gevra dat die publiek en media hulle daarvan weerhou om oor Jonker te spekuleer of onbevestigde inligting te versprei. Hulle het hul dank uitgespreek teenoor die nooddienste, duikers, helikopterbemanning, hommeltuigoperateurs, boere, vrywilligers en gemeenskapslede wat by die soektog betrokke is.

Volgens Oudtshoorn Courant het polisieduikers op die toneel bevestig dat die rivier in daardie stadium te sterk gevloei het om in die water te duik en dat hulle gewag het vir die vloei om af te neem. Daar was teen Sondagaand steeds geen teken van Jonker of sy voertuig nie.

Hannes Visser sê op sosiale media: Vandag was ek meer as vier ure by ‘n toneel waar ‘n boer en sy bakkie van ‘n laagwaterbrug gespoel en deur die rivier meegesleur is. Soos wat ek inligting ontvang, plaas ek dit op die koerant se Facebook. Geen teken van die bakkie nie. Die identiteit van die boer is bekend, maar ek weerhou dit totdat die familie toestemming gee. Intussen brand die son my tot ‘n gaar kreef, ek ploeter agter reddingsvoertuie aan en klouter op waar ek ‘n saamrygeleentheid kry en hoop my kar wat ek in die pad los, is oukei. Hommeltuie, helikopter, polisie, boere, familie, duikers, ‘n vol snelvloeiende rivier, vrae, hoop, nuuskieriges. Dit was ‘n lang middag, maar ek kon huis toe kom. Die nooddienste en polisie is nog teen die rivier, en die familie is bymekaar en kan niks anders doen as om te wag nie. Aan die Jonker-familie wat wag vir antwoorde en almal wat vir Saag Jonker ken – ons dink aan julle en wat julle moet deurgaan. Dankie ook aan die mense wat kommentare van bemoediging op sosiale media laat eerder as om onnadenkende klappe uit te deel.

Die familieverklaring is op die TrotsOudtshoorn Facebook-blad gedeel.

Bronne: Jonker-familie; Oudtshoorn Courant; Ostrich Products South Africa (OPSA)