VRYSTAAT. – ‘n Soektog is na ‘n onbekende beweerde gewapende ryloper op Ficksburg geloods nadat ‘n bestuurder en passasier van ‘n voertuig op 31 Maart doodgeskiet en nog ‘n passasier gewond is.
Sers. Mahlomola Kareli sê polisielede is na die toneel ontbied waar ‘n wit Isuzu-bakkie met ‘n gebreekte ruit aan hulle uitgewys is. Twee mans, onderskeidelik (39) en (45), is binne die voertuig aangetref en nog ‘n man (30) het op die grond buite die voertuig gelê. Die bestuurder en passasier is op die toneel dood verklaar, waarna een gewonde passasier na ‘n hospitaal vervoer is.
Na bewering het die slagoffers die verdagte ‘n saamrygeleentheid gegee. Hy het agter op die bakkie geklim. Toe hulle die informele nedersetting binnery, het die verdagte glo die ruit gebreek en op die bestuurder en sy passasiers geskiet.
Die verdagte het van die toneel gevlug.
Die Ficksburg-polisie ondersoek twee moorde en ‘n saak van poging tot moord en vra enigiemand met inligting om kol. Sephiwe Kunene, die stasiebevelvoerder van Ficksburg, by 0825649684 te bel.