GAUTENG. – Shaune Mogaila, ‘n sokkerspeler, oorweeg om ’n pleitooreenkoms aan te gaan in die saak oor ’n dodelike motorbotsing waarin die 9-jarige Gomolemo Mavimbela dood is en Thando Khethiwa ernstig beseer is. AfriForum se privaatvervolgingseenheid wil hê ‘n video van die botsing moet in die hof gewys word wanneer ‘n moontlike vonnis oorweeg word.
Volgens Barry Bateman, woordvoerder van die AfriForum-privaatvervolgingseenheid, sê Mogaila se regspan het die Tembisa-landdroshof ingelig dat hulle ’n voorlegging ingevolge artikel 105A van die Strafproseswet aan ’n senior aanklaer wil maak. Die sokkerspeler, wat daarvan beskuldig word dat hy die motorongeluk veroorsaak het wat tot die dood van Gomolemo Mavimbela (9) en kritieke beserings van Thando Khethiwa gelei het, oorweeg dit om ’n pleitooreenkoms aan te gaan. Hy staan tereg op aanklagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.
Die botsing het op 30 Oktober 2024 in Andrew Mapheto-rylaan plaasgevind. Mogaila, wat vir Sekhukhune United speel, het hom later dieselfde dag aan die polisie oorgegee en is borgtog van R20 000 toegestaan. Die saak is tot 30 Maart uitgestel.
Druk hier om meer te lees.




