Solidariteit stel plan bekend vir die beveiliging van gesondheidspraktisyns

Lees ook :

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns het vandag sy vyfpuntplan bekend gestel om definitiewe stappe te doen teen geweld teen gesondheidspraktisyns. Dit volg ná die nuutste berig oor ʼn ernstige aanval op ʼn dokter in KwaZulu-Natal tydens die uitvoering van haar pligte. Weens die ernstige aard van haar beserings moes sy in die waakeenheid opgeneem word.

“Hierdie aanvalle is afgryslik en onaanvaarbaar,” sê Henru Krüger, sektorhoof by die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns. “Dokters leef in vrees vir hul lewens en word gereeld gedreig met fisiese geweld waarby messe en vuurwapens betrokke is.”

“Gesondheidspersoneel kla veral dat hospitaalowerhede en -bestuur nie daadwerklik en ferm teenoor oortreders optree nie,” het Krüger gesê. Krüger wys daarop dat die dokters in sommige gevalle selfs die oortreders moet behandel. Gevalle is selfs aangeteken waar vroulike praktisyns amper verkrag is.

Die beroepsgilde stel die veiligheid van gesondheidspraktisyns as prioriteit en dring daarop aan dat strategieë ontwikkel moet word om die veiligheid van mediese personeel ten alle tye te verseker. In die lig hiervan stel Solidariteit se Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns sy volgende vyfpuntplan bekend wat ten doel het om:

  1. gesondheidspraktisyns volledig in te lig oor hul regte in verband met beroepsveiligheid;
  2. gesondheidspraktisyns in te lig oor watter stappe geneem kan word om griewe te lug in gevalle waar hul regte met betrekking tot beroepsveiligheid misken word;
  3. ʼn kanaal daar te stel waardeur gesondheidspraktisyns met die Beroepsgilde kan kommunikeer vir bystand in gevalle van misbruik;
  4. opleiding te verskaf en raad te bied rakende persoonlike veiligheid by die werkplek;
  5. algemene bystand te verleen in gevalle waar gesondheidspraktisyns ondersteuning benodig na aanleiding van voorvalle wat hulle oorweldig en sonder hoop gelaat het.

 “Gesondheidspraktisyns is ʼn nasionale bate. Hulle moet gekoester word. Solidariteit se Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns sal uitvoering gee aan sy vyfpuntplan ten einde te verseker dat ons mediese personeel vry, veilig en voorspoedig in hul werkplekke kan funksioneer,” sluit Krüger af.

Henru Krüger
Sektorhoof: Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns
Solidariteit
083 627 1711

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief