SUID-AFRIKA. – Met die skoolvakansie om die draai en mense wat met vakansie gaan, is dit belangrik om jouself teen die son te beskerm.
Volgens Paula’s Choice Skincare is ultraviolet A (UVA) en ultraviolet B (UVB) die strale wat die vel negatief beïnvloed.
Verskil tussen UVA- en UVB-strale
“UVB-strale beïnvloed die vel se oppervlak en veroorsaak sonbrand, wat jy kan sien en voel, maar skade deur hierdie strale veroorsaak ook dat vel abnormaal word. UVA-strale, aan die ander kant, wat jy nooit voel nie, dring die vel diep binne en vernietig alles in hul pad – insluitend die noodsaaklike ondersteunende stowwe wat die vel nodig het om jonk en gesond te lyk. Beide UVA- en UVB-strale speel ‘n rol in velkanker.”
Paula sê ook dis belangrik om te weet dat UVB-strale tussen 10:00 en 16:00 op hul felste is, terwyl UVA-strale die hele dag lank teenwoordig is teen ‘n redelik konstante intensiteit.
“Die sonbeskermingsfaktor-gradering (SPF/SBF) meet hoeveel UVB-beskerming ‘n produk bied wanneer dit op die vel toegedien word. ’n Produk met ’n hoër SBF beskerm die vel teen meer van die son se strale, maar die beskerming neem nie eksponensieel toe namate die SBF-gradering styg nie. Byvoorbeeld, ‘n produk met SBF 30 sal die vel teen byna 97% van die son se UVB-strale beskerm, terwyl ‘n SPF 50-produk jou 98% sal beskerm.”
Tyd in direkte sonlig
Hulle verduidelik ook dat die SPF-graderingstelsel ‘n gids is oor hoe lank jy in direkte sonlig kan bly voordat jou vel begin brand.
“Om dit uit te werk, moet jy weet hoeveel minute dit jou vel neem om pienk te word sonder sonbeskerming. As jy normaalweg begin brand ná 10 minute van onbeskermde sonblootstelling, vermenigvuldig die aantal minute met die SPF-gradering van die sonskerm wat jy oorweeg. Dit is hoe lank jou sonbeskerming sal hou.”
Hoe om dit uit te werk
Byvoorbeeld, as jou vel normaalweg van kleur verander ná 10 minute van onbeskermde sonblootstelling en jy gebruik ’n sonskerm wat SPF 30 gegradeer is, sal jy vyf uur se sonbeskerming kry.
(10 minute x 30 = 300 minute, wat 5 uur se beskerming is).
Breëspektrum-produkte
Paula’s Choice Skincare verduidelik ook terwyl UVB-strale verantwoordelik is vir redelik onmiddellik sigbare skade, soos die rooiheid van sonbrand, laat UVA-strale die vel verbruin, wat ‘n teken van skade aan elke laag vel is. “Daarom is dit so belangrik om sonskerm te dra en om produkte te kies wat as breëspektrum gemerk is, aangesien dit vel beskerm teen beide tipes UV-strale.”
Bron: Paula’s Choice Skincare





