GAUTENG. – Die Stad Tshwane het Woensdag tydens ’n #TshwaneYaTima-inkomsteveldtog elektrisiteit by verskeie staatsinstellings in Pretoria ontkoppel weens uitstaande skuld aan die munisipaliteit. Onder die staatsinstellings is die polisie-opleidingskollege met ‘n uitstaande elektrisiteitsrekening van R3,8 m.
Volgens die uitvoerende burgemeester, dr. Nasiphi Moya, is kragtoevoer by die SAPD-akademie afgesny. Sy het voorts gesê elektrisiteit is ook by die departement van arbeid se hoofkantoor in Pretoria ontkoppel oor skuld van R11 miljoen, asook by die SITA-kantore in Pretoria-Sentraal, wat R4,3 miljoen skuld.
Moya het verder gesê die Stad het ook by die Kgosi Mampuru- korrektiewe sentrum opgetree, waar die fasiliteit na raming byna R8 miljoen vir nutsdienste skuld. “Ons word deur nasionale en provinsiale staatsdepartemente meer as R2 miljard geskuld, en hierdie veldtog is daarop gemik om inkomste in te vorder sodat diensleweringsprogramme befonds kan word,” het sy gesê. Sy het bygevoeg dat werkopdragte ter waarde van meer as R45 miljoen tydens die operasie hanteer is en beklemtoon dat niemand in Tshwane bo die wet is nie.





