VRYSTAAT. – ‘n Stiefpa wat sy stiefdogter (13) in Amelia, Zamdelia, Sasolburg verkrag en swanger gemaak het is nou, die dogter wat verwek is reeds 12 jaar oud, lewenslank tronk toe gestuur.
Sers. Mahlomola Kareli sê die slagoffer (26) het gedurende 2011, toe sy 13 jaar oud was, saam met haar maats gespeel toe ‘n buurman haar na sy huis geroep en haar verkrag het. Sy het haar ma vertel en ‘n saak is by Sasolburg-polisiestasie oopgemaak en deur GKS ondersoek. Die verdagte buurman (36) is in hegtenis geneem. Terwyl die ondersoek aan die gang was, het die slagoffer se stiefpa haar in 2012, terwyl haar ma op ‘n kerkuitstappie was, twee keer verkrag. Haar ma het haar, omdat hulle glo nie op goeie voet met mekaar was nie, na ‘n pleeghuis in Johannesburg geneem. Toe haar pleegouers haar by ‘n skool wou inskryf, is ontdek sy is swanger. Die eerste saak het met die geboorte van haar babadogter tot stilstand gekom.
Op 23 Maart 2022 het die vrou (destyds 13 jaar) ‘n verkragtingsaak teen haar stiefpa (56) gemaak. Vaderskapstoetse is gedoen en dit is bevestig hy is die pa van die klaagster se 12-jarige kind.
Die stiefpa is deur die hof skuldig bevind aan verkragting en lewenslank tronk toe gestuur. Sy naam sal in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word.
Moang Tsolo, die aanklaer in die saak, het afgesluit en gesê ‘n onskuldige kind het onder twee mans wat haar moes beskerm, gely. Die persoon wat haar tydens die eerste saak bygestaan het, het teen haar gedraai en ‘n monster in haar oë geword. Die slagoffer het gesê sy haat dit om in enige verhouding te wees en dit is seer om te dink hoe sy haar kind gaan vertel hoe sy verwek is.




