VRYSTAAT. – Tien verdagtes is in hegtenis geneem ná ‘n vragmotor wat meel vervoer het, Woensdag op die N3 naby Warden, omgeslaan en dit geplunder is.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die vragmotor het 10 kg-sakke koekmeel vervoer. Dit het by die T-aansluiting op die N3 omgeslaan. Kort ná die ongeluk het ’n groep inwoners uit ’n nabygeleë gebiede die toneel bestorm en begin om die vrag te plunder. Die meel is in motors en sleepwaens gelaai terwyl polisielede probeer het om orde te herstel. Warden-polisie het bystand van die Harrismith- openbare orde polisiëringseenheid ontbied. Die eenheid het vinnig opgetree, die situasie gestabiliseer en verskeie persone op heterdaad betrap. Die verdagtes is in hegtenis geneem vir diefstal en besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Verskeie voertuie wat glo vir die misdaad gebruik is, asook sakke meel, is ook deur die polisie gekonfiskeer. Die verdagtes sal binnekort in die Warden-landdroshof verskyn.
Mophiring waarsku die publiek om nie eiendom wat aan ander behoort te steel of die toneel van ‘n misdaad te ontwrig nie.





