WES-KAAP. – ‘n 17-jarige seun is 25 jaar direkte tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan verkragting, moord en roof met verswarende omstandighede. Die saak hou verband met ’n gewelddadige plaasaanval op Valerie Enzer (79) die eienaar van die plaas Doringkloof in die Klein-Karoo in Julie 2025.
Tydens die hofverrigtinge het die beskuldigde skuld erken en verduidelik dat hy die bejaarde vrou geteiken het omdat sy alleen op haar plaas gewoon het. Hy het haar eiendom onregmatig betree, haar aangeval en verkrag nadat sy bewusteloos was. Hy het haar daarna met ‘n metaalketting doodgemaak en van onder meer ‘n skootrekenaar, selfoon, beursie en handsak besteel. Hy het ná die misdaad ook die oorledense se bankkaart vir klein inkope gebruik en van die gesteelde goedere aan ander persone gegee. Nadat die polisie hom in hegtenis geneem het, is die gesteelde goedere op verskeie plekke teruggekry.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die vonnis word verwelkom. Die hof het die beskuldigde 20 jaar gevonnis vir verkragting, 25 jaar vir moord en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Die vonnisse vir sommige aanklagte sal egter gelyklopend uitgedien word, wat beteken hy sal effektief 25 jaar tronkstraf uitdien. Hy is ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Lees meer hier onder:





